The Cartist

In The Press - Netwerk24

Media24's national Afrikaans news website

 

 

Kunstenaar van PE nou lid van Britse gilde

 

deur Odette Parfitt, Journalis - Publiseer 6 November 2016

 

"As ‘n kind in Suid-Afrika se “motorstad” het Clive Botha vroeg sy liefde vir motors ontdek – en nou is hy een van net twee erkende kunstenaars in Afrika wat dié liefde met papier en potlood kan uitleef."

Botha, oorspronklik van Uitenhage, is pas aanvaar as ‘n lid van die Britse gilde vir motorkunstenaars – wat tans uit net 60 lede oor die wêreld heen bestaan.

“Ek is trots om Nelson Mandela Baai en my land op dié platform te verteenwoordig,” se Botha . “Toe ek navorsing daaroor gedoen het, het ek besef Suid-Afrika het nie self so ‘n liggaam nie, maar dit is ‘n eer om nou tot die Britse Gilde te behoort.”

Hy besit ook sy eie bemarkingsagentskap (MotorMedia Communications) vir die motorbedryf, maar sy tekeninge vorm wel ‘n deel daarvan. “Die tekenbord is nog altyd my eerste liefde,” meen hy. “Daarom het ek ‘The Cartist’, ‘n afdeling vir motorillustrasies, as ‘n deel van die agentskap gevestig, en tans sorg dit vir 30% to 40% van my werk.” Hy teken met grafiet, kleurpotlode en merkpenne, maar wil homself nie tot een styl beperk nie, vertel hy.

“Die lekkerste om te teken is natuurlik ou klassieke motors of eksotiese sportsmotors. Ouer motors kan egter ook moeilik wees, as daar byvoorbeeld meer besonderhede aan die wiele is. Hoe meer kurwes en fyn besonderhede, hoe moeiliker raak dit om weer te gee.”

Die taak is ook ingewikkeld omdat die afmetings van die motor akkuraat moet wees. “Ek is ‘n perfektoinis, en hoewel ek die teken geniet, is dit meer grafiese ontwerp as fyner kunswerk,” meen hy. “Dit is ‘n bestaande produk wat visueel weergegee moet word. Jy kan ‘n boom op verskillende maniere teken en niemand kan regtig sê dis reg of verkeerd nie, maar as jy ‘n motor moet teken, sal jy vinnig sien as jy dit verkeerd gedoen het.”

As hy sy sin kry, sal hy eendag al sy aandag op dié tekenwerk kan toespits.

“Daar is baie moontlikhede in die veld, veral as ek ‘n paar ooreenkomste kan sluit met plaaslike handelaars. Dit sal selfs op nasionale vlak as ‘n diens aangebied kan word.”

Sy liefde vir motors is egter nie beperk tot die tekenbord nie. Wanneer sy vrou, ‘n dosent en navorser aan die Nelson Mandela Universiteit, konferensies oorsee moet bywoon, piekel hy graag saam vir “motorverwante uitstappies”, vertel hy.

“In 2013 kon ek die Las Vegas renbaan besoek en Ferrari, Lamborghini en McLaren-motors daar uittoets. Dié ervaring was ongelooflik opwindend. Net om daaraan te dink laat my bloed sommer weer bruis. Wanneer jy ratte verander en spoed vermeerder, voel dit soos ‘n geweerskoot wat jou teen die sitplek druk. Jy sit ook so laag dat dit voel of jy reg bo die aarde brul.”

Om meer van Botha se werk te sien, besoek sy webtuiste by www.thecartist.com

 

<<<  Press & Media Features